Gatiep, die engel en die hoendertjie


Gatiep soen soos gewoonlik vir Meraai goeienag voordat hy omdraai en binne 5 minute aan die slaap raak. Na 'n uur of twee skrik hy skielik helder wakker en sien 'n ou man langs sy kant van die bed staan, wit kleed en al. Meraai se lover? Hy kyk oor sy skouer maar dis pikdonker.

"Hey, wie's jy? Wat soek jy in my kamer?"

"Dis nie jou kamer nie, Gatiep, ek en jy is in die hemel."

"Waaat? Wil djy vir my kom vertel ek is dood Jy moet djou kop laat lees, ek is nog te jonk om te dood, ek wil dadelik teruggaan, NOU!"

"Dissie ..... ek meen, dis nie so maklik nie, sê die witgeklede engel, al die vacancies ........ ag shit, ek meen, jy kan net teruggaan aarde toe as 'n hond of 'n hoenderhen. wat sal dit wees?"

Gatiep oorweeg die saak so 'n bietjie, hoenderhen of hond? 'n Hoenderhen klink beter, hy het tog nie krag om rond te hardloop en vir al wat kar is te blaf en saans te wag vir sy bak kos nie, dan liewer 'n hoenderhen wat heeldag niks doen nie.  Beter as niks, dan is hy darem terug op die aarde.

"Okei, ek wil 'n hoender wees", en woeps, is hy in 'n hoenderhok iewers in die Vrystaat, so 'n mooi rooibruin hoendertjie, maar mense, sy gat brand soos vuur! Die haan kom kennis maak en sê "Haai, jy is mos die nuwe hoendertjie, die ou wat van die hemel af teruggekom het, hoe laaik jy om 'n hoender te wees?"

"Ag, dissie so bad nie, beter as om dood te wees." sê Gatiep, "maar ek voel ek gaan ontplof."

"Jy moet 'n eier lê, dan is alles oor, kekkel net twee keer en dan druk jy dat dit bars."

Gatiep maak toe soos die haan sê, kekkel twee keer en druk, en wraggies, plop, daar lê 'n eier op die grond. Dis so lekker dat hy dit sommer weer 'n keer doen. Die derde keer toe stamp iemand hom dat hy so trek en hy hoor Meraai skree: "Gatiep, word wakker, jy skyt die hele bed vol!"