|
Klaas Geswind en sy perd
As jy miskien nog met jou maat bo in die dorp sit lag en praat, vergeet jy jy moet huis toe gaan, anders sal Elsie vir jou slaan. Sy sit al by die vuur en brom: "Ek kry hom soos hy huis toe kom."
Jammer dat mans so selde hoor as vrouens vir hul knor. Dit is maar so: "Hul kan maar praat, ons luister tog nie na hul raad." dat dit so is, het Klaas Geswind een donker nag ook uitgevind. Hy't lelik in die knyp geraak toe hy moes terugry van die Braak.
Het Klaas geluister na sy vrou, dan het dit hom nog nooit berou. Geen dag gaan om of sy vertel hom: "Maar Klaas, jy is tog al te skelm. Nog nooit is jy van huis gewees, of jy gedra jou nes 'n bees. En loop Klaas Tieties met jou mee, dan gaan dit woes met julle twee."
Een aand, in plaas van huis toe gaan, bly Klaas nog in die dorp en staan. "Nou, arrie! moet jul my trakteer: kom kêrels, gooi maar nog 'n keer." Hul gee oom Klaas ook nog 'n dop, toe was hy net mooi hoenderkop.
Nou skeel dit niks, al word dit nag, hy bly maar daar gesels en lag, as Klasie eers begin te slinger, dan kan jy glo, hy sal maar linger
Plesier is nes 'n jong komkommer, as jy hom pluk, verlep hy sommer of nes 'n skilpad in sy dop in, soos jy hom vat, dan trek hy kop in.
As Klaas vannaand sy huis wil haal, dan word dit tyd om op te saal. Dus klim hy Kol maar saggies op en druk sy hoed vas op sy kop.
'n Flukse merrie was ou Kol, al was haar rug 'n bietjie hol. eers fluit die ou - want hy was bang - die neën-en-neëntigste gesang. Dan kyk hy weer 'n slaggie om of daar miskien 'n spook aankom. Voor hy vannaand sy huis kan kry, moet hy die kerkhof nog verby.
Drankies is darem snaakse goed, hul gee die bangste kêrel moed. Al is 'n mansmens nog so olik, 'n sopie maak hom netnou vrolik, steek hy maar net 'n dop of drie, dan stuit hy vir geen duiwel nie.
Maar Klaas het darem naar gelyk toe hy daar in die kerkhof kyk, sy bloed het wonderlik gekook toe hy gewaar hoe dit daar spook. Daar speel die duiwel op 'n tromp vir veertig spoke in 'n klomp. hul dans daar rond dat dit so gons - geen ouderwetse kotiljons, maar eers Alexander Klipsalmander trap hulle almal met malkander. Toe was dit weer die hondekrap, totdat die sweet so van hul aftap.
Die goed was byna poedelkaal, en kyk, die vrouens was te skraal, maar een daarvan, 'n bietjie dikker, maak so 'n uitgehaalde flikker dat Klaas, plaas van sy bek te hou, skree: "Arrie! dit was fluks van jou!"
Soos hy dit sê, toe moet hy ja, die heel boel sit hom agterna. "Kol, loop nou dat die stof so staan, anders is Klaas vannaand gedaan. Kom jy maar net die drif verby, dan dalkies raak jou baas nog vry. 'n Spook is nes 'n bokkapater, hy loop nie sommer in die water. Toe, Kol, die duiwel sny jou spoor." Hier lê die drif .."Hiert!" sy's daaroor. Haar stert het glad uitgeruk, maar Klaas is los, dis sy geluk.
Vir die wat lus het om te draai, wil ek maar net 'n woordjie raai - Gedink aan Klaas Geswind se perd en vra jouself" waar is haar stert?
Kliek hier met jou muis om hierdie blad toe te maak en meer rympies te lees |