|
Moeder Makou en haar kleine Piet
Dis moeder Makou en haar kleine Piet, as jy nader kom dat sy dit bespied, dan lig sy haar kop en kyk vir jou asof sy vra : "Wat is dit nou? Wil jy Pietjie hê, wil jy Pietjie steel - my liewe klein bolletjie goudfluweel?"
En sy sê met haar omdraai al skuddend haar stert: "Nee, die hele wêreld is Pietjie nie werd. Kom ons loop." En hy volg haar in trippeldraf klein op sy sagte voetjies van geel satyn.
as sy waak, sit hy en slaap, onbewus van haar angs. of hy trippel rond op 'n goggatjie-vangs; pik mis en te laat na 'n motjie wat vlug en struikel onhandig en val op sy rug.
Die wêreld daarbuite mag staan of mag val, ons erf is vir Pietjie en Ma die heelal, want Ma het vir Pietjie en Piet het vir Ma, daar's niks wat hul meer van hul daggie vra as, totdat hul tydjie word opgesê, net lief te hê, net lief te hê.
-- Jan F.E. Cilliers -- Kliek hier met jou muis om hierdie blad toe te maak en meer rympies te lees
|