Muskiete-jag

Jou vabond, wag ek sal jou kry

van jou sal net 'n bloedkol bly

hier op my kamermure.

Deur jou vervlakste gonsery,

deur jou gebyt en plaery

kon ek nie slaap vir ure.

 

Mag ek my voorstel, eer ons skei,

eer jy die doodslag van my kry -

my naam is Van der Merwe.

Muskiet, wees maar nie treurig nie,

wees ook nie so kieskeurig nie,

jy moet tog eendag sterwe.

 

Verwekker van malaria,

sing maar jou laaste aria -

nog een minuut van grasie.

Al soebat jy nou nog so lang,

al sê jy ook, ek is nie bang,

nooit sien jy weer jou nasie.

 

Hoe sedig sit hy, o, die ding!

Sy kinders kan maar kranse bring,

nou gaan die vabond sterwe.

Pardoef ! Dis mis ! Daar gaan hy weer !

Maar dood sal hy, sowaar, ek sweer - 

my naam is Van der Merwe !

-- A D Keet --

Kliek hier met jou muis om hierdie blad toe te maak en meer rympies te lees