Ou Tante Koba

 

Ou Tante Koba is 'n snaakse ou vrou,

sy loop net soos 'n mank makou.

 

Ou Tante Koba sy is so bly

dat sy tog weer 'n skoonseun kry.

 

Lank is die seun en kort is sy pa,

mooi is die dogter en lelik haar ma.

 

Wie eerste kom, kry die middelmoot

die ou kalkoen is twee dae dood.

 

Oom Hennie kom die hoogte uit

toe bak Tante Koba mosbeskuit.

 

Oom Hennie is haar neus verby,

sy sal maar net vir Rothman kry.

 

'n Skeel rot met stompe stert

Rothman is g'n trippens werd.

 

Ou Tante Koba met haar skewe hand,

haar suikerbrood is swart verbrand.

 

Kinders, ons moet soutvleis braai,

dit lyk of die jonkmans hier wil draai,

 

Ek hou my lyf soos 'n broeis fisant,

en ek dans met die tannie met die een uit-tand.

 

Ou Tante Koba met haar wynkalbas,

knyp die viool met haar tone vas.

 

aar tafel staat so opgedres -

vier skottels rys en 'n halwe fles.

 

Hoender, kop-en-pootjies en tamatieslaai,

die vaalhaarnooi wil ek mee draai.

 

Ek hou my lyf soos 'n vaal patrys

en ek dans met die tannie met die polonys.

 

Ek vir jou en jy vir my,

jy is die een na wie ek vry.

 

Ou Tante Koba kom die bult daar af,

Ou Tante Koba op 'n stywe draf.

 

Met 'n emmer turksvye so op haar kop

kan Ou Tante Koba soos 'n perd galop.

 

Ek hou my lyf soos poelpetaat,

en ek dans met die tannie in die rou-bestaat.

 

Ou Tante Koba sy is so dom,

sy roer haar koffie met haar groottoon om.

 

Ou Tante Koba raak in die nood,

vyf kalkoene en 'n hoenderhaan dood.

 

Die dooie kalkoen en die rooi hoenderhaan

die was so taai ons moes laat staan.

 

Ou Tante Koba, die snaakse ou wyf,

vra jy haar melktert, dan gee sy jou snuif.

 

Ek hou my lyf soos 'n mannetjiespou

en ek dans met die tannie wat biltong kou.

 

Ou Tante Koba maak oop die deur,

jou ouman se broek sit vas in die skeur.

 

Ek steel my sak vol mielieblare,

en ek dans met die tannie met die vaal hare.

 

Jy vir my en ek vir jou,

jy's die een met wie ek gaan trou.

'n Ander weergawe HIER

 

 

Kliek hier met jou muis om hierdie blad toe te maak en meer rympies te lees